Onbekende man soek tweejariges vir inentings

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ’n Onbekende man het vanmiddag in Herlear rondgery, vermoedelik op soek na tweejarige kinders.

Yolande McDonald, ’n ma van twee, het vanmiddag net ná 16:00 in haar tuin gestaan toe hierdie man by haar stop. “Hy het geen vorm van identifikasie gehad nie en het ook nie in ’n gemerkte voertuig gery nie. Hy het my gevra of ek ’n tweejarige kind het, hy is van die departement van gesondheid en hulle ent kinders in.”

Spesifiek tweejariges

Yolande sê hy het spesifiek vir tweejarige kinders gevra. “Ek het hom in kennis gestel dat ek nie sulke jong kinders het nie, waarna hy toe gevra het of daar enige gesinne in die straat is wat tweejarige kinders het.”

Sy sê hierdie man is diep in die dertig of in sy vroeë veertigs.

Veldtogte

“Toe die man ry, het ek my suster gebel, omdat sy by ’n kliniek werk. Sy sê hulle is nie in hierdie stadium besig met enige veldtogte nie en ent ook nie kinders op daardie ouderdom in nie.

“Ek het voorheen gesien iemand het op Facebook gevra hieroor en dink net meer mense moet bewus wees hiervan.”

Navraag

FiND iT het navraag by die polisie gedoen, maar die woordvoerder was nie beskikbaar vir kommentaar teen tyd van publikasie nie.

FiND iT hou jou op hoogte.