GALESHEWE. – Twee bejaarde vrouens is na bewering gisteroggend hier beroof en verkrag voor die verdagte van die toneel gevlug het.
Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek ’n saak van verkragting en roof. Hierdie gebeure het Maandagoggend omstreeks 01:00 in Gwelestraat in Galeshewe plaasgevind.
Kapt. Bashoabile Kale, polisiewoordvoerder, sê ’n 23-jarige man het na bewering aan die huis, waar die twee bejaarde vroue woon, se deur geklop. “Hy het versoek dat hulle hom help met sy ouma wat lê en nie beweeg nie. Die twee bejaarde vroue, wat 76 en 79 jaar oud is, het die deur vir hom oopgemaak, waarna hy gewapen met ’n mes die huis binnegegaan het.”
Kale sê die verdagte het hulle met die dood gedreig. “Hy het geld geëis en hulle het ’n onbekende bedrag geld aan hom gegee. Die verdagte het hulle toe verkrag en van die toneel gevlug.”
Die saak word deur speurder-sersant Bonolo Masao van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek. “Enigiemand met enige inligting of weet waar die verdagte is, moet asseblief die ondersoekbeampte by 053 807 6000 of 10111 kontak.



