Is jou garing deurmekaar? Irene Haasbroek gee raad

Deel hierdie storie / Share this story

Hoe gereeld bevind jy jouself in ’n situasie waar daar net te veel dinge is wat gedoen moet word en daar is eenvoudig net nie genoeg ure in een dag om als gedoen te kry nie?

Die gevoel van oorweldiging of verward wees kan jou lam laat voel, jou stresvlakke die hoogte laat inskiet en al die balle wat jy in die lug probeer hou, op die vloer laat val. Nou sit jy daar en voel soos ’n totale mislukking omdat jy jouself en dalk ander ook gefaal het.

Hierdie eenvoudige (en onthou eenvoudig beteken nie noodwendig maklik nie) instruksies en oefeninge sal jou help om die ‘verward’ uit die dag te haal. Wat belangrik is, is om dit jou eie te maak. Hier is nie rêrig ’n regte manier of ’n verkeerde manier om dit te doen nie, die belangrikste is om dit te doen. Doen dit aan die begin van ’n dag, ’n week of ’n maand om duidelikheid te kry van wat gedoen moet word om met kalmte deur die dag te kom.

Dit werk elke keer! Kom ons begin . .

Dit is wat jy gaan doen:
1) brain dump
2) kategoriseer
3) sorteer
4) skeduleer en verbind tot aksie
5) maak dit ‘n gewoonte

Wat is ’n brain dump?

Somtyds voel jou gedagtes so deurmekaar soos ’n bol wol wat die kat beetgekry het en dis juis hierdie toestand wat jou stres laat ondervind. Jy begin dink aan als wat gedoen moet word, wanneer dit gedoen moet word, hoe dit gedoen moet word. Dan kom angstigheid, paniek en jy kan glad nie kop of stert uitmaak nie en gaan sit op jou eie ashopie..
Brain dump is ’n eenvoudige tegniek wat hierdie deurmekaarspul orden sodat jy meer produktief funksioneer. Dit help jou ook om jou tyd beter te benut, maak jou kalmer en verminder definitief die stresfaktor.

Hoe begin jy?

Jy het nodig: papier, jou gunstelingpen of -potlood en glimpenne (highlighters). Sodra jy gereed is, begin net skryf. Skryf elke ding neer wat deur jou gedagtes gaan. Klein dingetjies, groot goete. Indien sekere gedagtes meer as een keer verb kom, skryf dit weer neer. Hierdie hoef nie nou sin te maak nie. Sommige dae sal jou lys lank wees, ander dae kort. Onthou – hier is nie ’n verkeerd of reg nie, doen net wat vir jou natuurlik voel.

Indien jy vashaak, vra jouself:

Waaroor bekommer ek my?
Wat hou ek aan vergeet?
Wat gaan my rêrig gelukkig maak?
Het iets verkeerd geloop die afgelope tyd?
Watter take word nooit gedoen nie?
Is daar ’n spesiale geleentheid wat voorlê?
Wie moet ek bel?
Wat in my lewe werk nie rêrig nie?
Is daar iets wat beplan moet word? ’n Vakansie, partytjie?

Jy gaan weet wanneer jy klaar is sodra jy fisies ligter voel. Jy kan dalk ook ’n lekker diep sug gee..
Noudat al jou gedagtes op papier is, kategoriseer dit volgens al die areas in jou lewe soos familie, werk, huistake, ens. Skryf elke kategorie op sy eie bladsy. Kyk na elke bladsy afsonderlik en kies 1-3 gedagtes wat die belangrikste is en highlight hulle. Jy gaan eindig met 8-12 dinge wat dadelik gedoen moet word en dit is hierdie dinge wat die angstigheid in jou lewe veroorsaak.
Identifiseer die goed wat vinnig gedoen kan word en handel dit vinnig af. Maak ’n tyd vas wanneer dié wat oorbly gedoen moet word.
Gaan deur jou lyste en beplan wanneer jy die dinge wat nie ge-highlight is nie gaan doen. Gebruik hierdie tegniek so gereeld as wat jy wil en jy gaan vind dat daardie aanhoudende oorweldigende gevoel en stres minder raak en jy gaan meer kalm en in beheer voel.

Onthou – the purpose of life is to live.