KIMBERLEY. – Sowat 50 trokke en bakkies het vanmiddag deur Kimberley gery met voer op pad na die dorre Vosburg-distrik.
Boere Droogtehulp SA, is sowat twee jaar gelede gestig en het hierdie seëning aan die boere in Vosburg moontlik gemaak.
Chris van Beljon, die stigter van Boere Droogtehulp SA, sê sonder die hulp van ander boere sou hierdie vragte nie moontlik gewees het nie. “Ons is ongelooflik geseën en waardeer al die hulp van die gemeenskap baie.”

Groot verrassing
Hy sê hy het twee jaar gelede ’n oproep van sy ma ontvang, waar sy hom in kennis gestel van boerein Aberdeen, in die Oos-Kaap, wat baie swaarkry. “Ek het ’n paar mense gebel en kon reël dat daar ’n paar bakkie-vragte met voer na daardie boere gaan. Dit was ’n groot verrassing vir hulle. ’n Rukkie na ons daardie voer gaan aflaai het, het ek uitgevind daardie man en vrou het hulself gedoop in ’n rivier wat deur hulle plaas geloop het. In daardie stadium was daar net nog ’n paar sentimeters water oor.
“Na daardie boodskap het ek geweet ek moet aangaan met die droogtehulp. Kort daarna het ek Boere Droogtehulp SA gestig, maar het dit eers Februarie vanjaar geregistreer as ’n NPC, sodat ons fondse kon insamel.”
Vosburg
Hy sê daar is altesaam 43 boere in die Vosburg-distrik en almal gaan vandag voer ontvang. “Ons het ook vars groente, vrugte, geskenke vir die vrouens, hondepille en inkleurboeke vir die kinders wat uitgedeel gaan word.

Skenkings
“In hierdie stadium is daar baie mense wat voer skenk, maar ons sukkel om finansiële skenkings te ontvang. Ons sukkel om fondse vir die diesel-uitgawes in te samel.”
R2-miljoen
Hierdie voer wat vandag by die boere afgelaai gaan word, beloop omtrent R2-miljoen. “Al hierdie voer was gereed om verkoop te word, maar die boere was baie goedhartig en het besluit om dit eerder te skenk aan die boere in nood,” vertel Van Beljon.
Terwyl hy sy trane afvee, sê hy hoe wonderlik dit is om al hierdie werk te sien realiseer. “Dit is ’n amazing om dit te sien.”



