FiND iT het gister die rioolaanleg in Greenpoint besoek. Johan Smit, van die VF Plus, het FiND iT vergesel. Die Greenpoint-rioolsuiweringsaanleg bedien die oostelike gedeelte van Kimberley.
Dié aanleg is in ’n baie goeie toestand. Alle pompe en sisteme is in ‘n werkende toestand. Die werkers is vriendelik en behulpsaam en het FiND iT deur die hele proses geneem.
Johan sê wat hom opgeval het, was hoe trots die werkers is oor hul werk.
“Hulle praat met soveel verantwoordelikheid en pligsgetrouheid oor elkeen se pligte en hoe hulle mekaar ondersteun. Hierdie is hulle aanleg en hulle is trots op hom.”
Behalwe dat die toerusting in ’n goeie toestand en skoon en netjies is, is die perseel self deur die werkers mooigemaak. Die gras is groen en die tuin mooi.
By die eerste siwwe waar die riool in die aanleg inkom, word alle plastiese sakke, materiaal ensovoorts uit die rioolwater verwyder. Hier vertel hulle, kry hulle met tye die snaakse goed. Mense dink mos, sê hulle, hulle kan alles in die toilet by die huis wegspoel. Komberse, onderklere, lappe, oorstokkies, sanitêre doekies en som sook fetusse word gesien.

Daarvandaan is aan ons die roete gewys waarlangs die ongesuiwerde rioolwater gaan. Elke fase werk en elektriese toerusting is in ’n baie goeie toestand. Dit is deurlopend opvallend hoe skoon die aanleg is. Die loopweë is skoon, handrelings is alles in plek en die lang veldgras tussen die damme is kort gesny.
Die enigste groot probleem in hierdie stadium is die chlorineerder se gas wat op is. Die laaste fase van die suiwering van die riool is waar daar chloor in die water gesit word. Chloor ontsmet die water. Dit word dus gebruik vir die doodmaak van bakterieë en virusse wat in die water voorkom. Die gesuiwerde water word dan gepomp na ‘n opgaardam in die voorheen De Beers-gronde, waarvandaan dit gebruik word vir mynbou.

FiND iT het om die beurt al die ander pompstasies besoek en bevind dat Greenpoint uitstaan bo die ander.
Meer volg oor die toestand van die ander persele.



