Polisiehond bevriend mense met gestremdhede

Deel hierdie storie / Share this story

OOS-KAAP – Polisiehonde kan aangewend word om terapie vir mense met gestremdhede en geestesprobleme te bied. 

So sê kol. Priscilla Naidu. Die vriendskap van diere help om eensaamheid te verminder by bejaardes in bejaardesorgfasiliteite soos ouetehuise.

Die honde-eenheid tesame met die Humewood se SAPD-vrouenetwerk het Home Sweet Home-sorgsentrum in St George’s Park in Port Elizabeth besoek.

“Misty”, die soek-en-redding-hond, het die harte van die rolstoelgebonde inwoners by die fasiliteit gesteel.

Naidu sê dit wou voorkom asof Misty net geweet het hoe om kalmte en vrede na die pasiënte wat met siektes sukkel te bring. 

Nadat sy haar vaardighede met haar hanteerder, a.o. Etienne Gerber, ten toon gestel het, het Misty dit geniet om deur die inwoners gestreel te word.

Die vrouenetwerk het die 53 pasiënte ook bederf met ‘n heerlike koppie tee en koek. Die SAPD is trots daarop om by te dra tot die vinnige herstel en ontwikkeling van mense met spesifieke mediese toestande.