KIMBERLEY – Drie nuwe barsplekke het op verskeie plekke in Carringtonweg en die omliggende gebied ontstaan. Sommiges is al weke gelede rapporteer, maar nog nie herstel nie.
Op die hoek van Dalham- en Carringtonweg stoot die water die teeroppervlak in die lug op.
Ockert Fourie, DA-raadslid van wyk 25, sê die bars is rapporteer, maar die vorige lekkasie op die elfde hoek waar die Sol Plaatje-munisipaliteit afsluitkrane voorsien het, het ook weer begin lek.
Die lekkasie verder in Dalhamweg af wat al vir byna twee weke stroom, is ook rapporteer. Dieselfde met die nuwe lekkasie in Sentraalweg, sê hy. Dit is ook gerapporteer. Die lekkasie is nie ver van ’n vorige plek waar ’n waterpyp in die straat gebars het nie.
Munisipale inbelsentrum versoek ’n lys van lekkasies
Fourie sê alhoewel hy elke lekkasie individueel gerapporteer het, het die inbelsentrum ’n lys van die lekkasies versoek. Die klagtes is met die bestuurder van die inbelsentrum opgeneem.
Gravitasiedam se vlak bykans 90% vol
Terwyl die gravitasie-opgaardam ongeveer 90% vol bly, is die damvlakke krities laag daar, sê hy.
Sello Matsie, woordvoerder by die Sol Plaatje-munisipaliteit, het nie betyds vir publikasie terugvoering gelewer nie.



