KIMBERLEY. – Menanto Etzebeth (18) het glad nie verwag om as KANSA se Matrieknooi van 2019 aangekondig te word nie. Sy het haar matriekafskeid spesiaal aan haar ouma, wat haar stryd teen kanker verloor het, opgedra.
Menanto is ’n matrikulant aan die Hoërskool Diamantveld.
Kanker
Sy sê sy was oorspronklik nie seker of sy aan KANSA Matrieknooi wou deelneem nie. “Met die eindeksamen waarop ek moes fokus, was die besluit baie moeilik. Ek het ook my ouma aan fase 4 pankreas- en lewerkanker verloor. Sy het in Desember 2017 siek geraak en is in Januarie 2018 gediagnoseer. Die dokters het in Februarie al haar opsies vir haar gegee en sy het toe besluit om nie chemoterapie te ontvang nie. Sy het die stryd teen kanker verloor en het op 4 April 2018, op die ouderdom van 65, gesterf.”
Menanto sê presies ’n jaar later op 4 April 2019 was dit haar matriekafskeid. “Die wonde was teen daardie tyd nog baie rou, maar ek het my hele dag aan haar opgedra.
Aankondiging
“Almal het die hoop in hulle hart om te wen, maar ek het dit glad nie verwag nie. Dit was werklikwaar onbeskryflik. Al die meisies het beeldskoon gelyk in hulle rokke. My familie se emosies was onbeskryflik toe hulle my naam as KANSA Matrieknooi aankondig.”

Gemeenskapsprojekte
Menanto is ’n ambassadeur vir KANSA en gaan hulle help met fondsinsameling en gemeenskapsprojekte. “Die jaar wat vir my voorlê, is vol nuwe uitdagings en geleenthede, maar ek sien baie daarna uit om betrokke te wees.
Toekomsplanne
Vir Menanto is vrye tyd maar min. Sy spandeer tyd by die gym, pas kinders op en bring ook tyd saam met haar vriende en familie deur. Ná skool wil sy graag oorsee gaan werk as au pair. “Ek het ’n passie vir kinders, fotografie en grimering en wil graag die wêreld verken. Ek sal graag in daardie rigtings wil gaan studeer as ek klaar is met au pair.”






