KIMBERLEY. – ’n Spesiale seremonie – die eerste van sy soort by die polisiekantoor hier – is gehou.
Lt.-genl. Risimati Shivuri, die provinsiale kommissaris van die SAPD in die Noord-Kaap, het tydens hierdie seremonie die nuwe rangtekens aan lede wat die range van kaptein, luitenant-kolonel en kolonel ontvang, oorhandig.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê hierdie 50 lede is onlangs bevorder en begin amptelik op 1 November 2019 in hulle nuwe poste.
“Shivuri het die lede toegespreek en die nuutaangestelde kommissarisse aangemoedig om nuwe strategieë te vind om kubermisdaad te bekamp.”
Oktober is psigiese gesondheid-bewustheidsmaand. Die kommissaris het die selfmoordsyfer in die organisasie bespreek en lede aangeraai om inisiatiewe te neem om te verseker dat die geestelike welstand van kollegas net soveel voorrang as hulle amptelike pligte geniet.
Hy het aan die lede gesê hulle aanstellings is gebaseer op, maar nie beperk nie, tot hulle ervaring en bekwaamheid.
Maj.-genl. Koliswa Otola, adjunk-provinsiale kommissaris van misdaadopsporing, het die plegtigheid afgesluit en die lede gelukgewens en gesê hulle nuwe rolle verg toewyding, dissipline en harde werk.








