Inwoners teen drink van munisipale water gewaarsku

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Inwoners van Kimberley word gemaan om nie munisipale water te drink tensy dit gekook, ontsmet of gefiltreer is.

So waarsku Tumelo Mosikare, sekretaris van die Sol Plaatje-gemeenskapsforum.

“Die aan- en afskakel van die pompe roer die sediment aan die onderkant van die opgaardam. Die vuil water beland dan in die krane van inwoners.”

Mosikare se raad is om ‘n teelepel Jik by die water te voeg. Dit moet dan gekook word en afgekoel word voordat dit gedrink kan word. “Indien jy dit kan bekostig, gaan koop water,” maan hy.

Mosikare besoek Riverton

“Ek het Riverton verlede jaar besoek en het gesien hoe die deeltjies in die water wat op die damwal se muur aanpak skoongemaak word. Ek het die werker gevra wat dit is, want soms kom dieselfde materiaal deur tot in die kraan.”

“Hy het verduidelik dat hul damme by Riverton keëlvormig is en dat die sediment na die middel kan tregter terwyl die skraper deur die dam beweeg. Dit beteken dit kan nie op die bodem vassit nie.”

Newton-opgaardamme moet skoongemaak word

“Terwyl die Newton-opgaardamme plat is, moet dit met die hand skoongemaak word. Die damme moet eers leeggemaak word sodat mense fisies daar kan ingaan om die vloer skoon te vee. As dit nie skoongemaak word nie, gaan lê die alge soos slyk op die bodem.”

“Nou wat die damme byna leeg was, roer dit die grond aan die onderkant wanneer dit gevul word en dit gaan na huishoudings toe,” sê Mosikare.

Troebelheid hoog

Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê die munisipaliteit het ’n soortgelyke kennisgewing uitgestuur gedurende die tyd wat die water afgeskakel was, omdat die troebelheid van die water hoog was.

Nie FiND iT of Mosikare kon die kennisgewing wat inwoners maan om hulle water te behandel, opspoor nie.

Dit sal mettertyd verbeter namate die stelsel stabiliseer, sê Matsie.