*Nie vir sensitiewe lesers en nie vir kinders bedoel nie.
BRITTANJE. – Die Britse man wat sedert 2016 in die tronk is vir talle seksmisdade teen Maleisiese kinders, is Sondag dood in sy tronksel aangetref.
Richard Huckle (33) is na bewering doodgesteek in die Full Sutton-tronk, waar hy sedert 2016 was.
Mishandeling
Luidens BBC News se berig het Huckle soveel as 200 kinders mishandel. Hy is 22 lewenslange vonnisse in 2016 opgelê, nadat hy tussen 2006 en 2014 op 71 aanklagte van seksuele mishandeling van kinders tussen ses maande en 12 jaar skuld erken het. Ondersoekers wat sy rekenaar nagegaan het, het meer as 20 000 onsedelike foto’s en video’s van sy aanrandings gevind.
Praktiserende Christen
Die polisie is kort na 12:30 ontbied en het ’n ondersoek na sy dood, wat volgens hulle as verdag beskou word, geloods. Huckle is in Desember 2014 op die Gatwick-lughawe in hegtenis geneem na die Australiese owerhede inligting aan die Nasionale Misdaadagentskap gegee het. Hy het homself voorgehou as ’n praktiserende Christen en het Maleisië vir die eerste keer op 18 of 19-jarige ouderdom besoek, berig BBC News.
Handleiding
Verder word ook berig Huckle, wat as vryskutfotograaf gewerk het, het probeer om ‘n onderneming te befonds uit sy dade deur die vrystelling van die beeldmateriaal en hy het ook ‘n handleiding vir ‘n pedofiel saamgestel ten tyde van sy arrestasie in 2014.



