KIMBERLEY – Die departement van waterwese in die Noord-Kaap het regstappe teen Sol Plaatje-munisipaliteit gebring om die besoedeling by die Gogga-pompstasie buite Kimberley stop te sit.
So sê Gawie van Dyk, die direkteur van regulasies by die departement. Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die operasionalisering en instandhouding van dié pompstasie.
Verskeie kennisgewings en voorskrifte is aan die munisipaliteit uitgereik om besoedeling te stop, reg te stel en te rehabiliteer.
Die administratiewe handhawingsproses is afgehandel en die saak is vir regsaksie verwys.
Homevale-watersuiweringsaanleg gedeeltelik operasioneel
Van Dyk sê die Homevale-watersuiweringsaanleg behandel tans lae volumes riool- en afvalwater van tot 26 megaliters per dag. Dit word gedeeltelik behandel. Hy sê alhoewel die kwaliteit van die water goed is, word nie chloor of ontsmettingsmiddels toegedien nie.
Die departement volg die nodige proses om die munisipaliteit te dwing om die situasie reg te stel.



