DA wil Sol Plaatje tegnies help by aanleg

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die DA in die Noord-Kaap het aangebied om ’n span kundiges vanaf Kaapstad te bring om tegniese hulp aan Sol Plaatje-munisipaliteit te verleen om die Homevale-watersuiweringsaanleg weer op die been te bring.

Andrew Louw, DA-provinsiale leier, sê dit kom te midde van kommer omdat die aanleg sedert Augustus verlede jaar nie in werking is nie. Die doel van die aanleg is om die grootste deel van die stad se afvalwater te verwerk.

FiND iT het vroeër vanjaar tydens ‘n inspeksie deur Louw en Anton Bredell, minister van plaaslike regering in die Wes-Kaap, die aanleg in Homevale besoek.

Louw sê: “Die damme was leeg en tot by die knie gevul met fermenterende modder.”

Kors en borrelende, gistende rioolwater

“’n Kors het ontstaan by riool wat duidelik vir ‘n lang tyd gestaan het. Borrelende, gistende rioolwater kon ook in sekere damme gesien word. Die een dam het ‘n buitengewone pienk kleur gehad. Dit het alarmklokke laat afgaan.”

Damme wat bedoel was om met skoon, gesuiwerde water gevul te word, was net gevul met ‘n harde laag riool waarop plante groei. Rou rioolwater vloei ook in die veld in. Dit is net logies om aan te neem die situasie is nou baie erger,  sê Louw.

“Die ironie is egter dat die aanleg die ideale infrastruktuur is. Indien dit korrek bestuur word, kan dit in ‘n eersteklasaanleg omskep word.”