Polisiebeampte gevang vuurwapens steel

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN – ’n Vroulike polisiekonstabel is op 8 Oktober op aanklagte van korrupsie en sameswering om gewapende roof en diefstal te pleeg in hegtenis geneem.

A.o. Lynda Steyn, polisiewoordvoerder, sê die 34-jarige konstabel is deur die Valke en misdaadintelligensie arresteer nadat inligting na vore gekom het dat sy beplan om vuurwapens by haar eenheid te steel.

Steyn sê die beskuldigde het haar dienspistool aan twee verdagtes oorhandig om die rooftog, wat noukeurig beplan was, uit te voer. Die twee het later met die buit teruggekom. Hulle het twee R5-gewere met twee magasyne en 96 rondtes asook vier 9mm-pistole met 11 magasyne en 165 rondtes ammunisie gehad.

Die beskuldigde is R30 000 vir haar bydrae betaal, maar die ontvangs daarvan het gelei tot haar inhegtenisneming. Beslag is op alle vuurwapens, insluitend haar voertuig en selfoon, gelê.

Die verdagte het vandag in die Bloemfontein-landdroshof op dié aanklagte te verskyn.