Leiers van die Noord-Kaap trek saam

KIMBERLEY. – Joan Venter, Hoërskool Noord-Kaap se skoolhoof, gaan hierdie jaar vir die derde agtereenvolgende jaar die Global Leadership Summit in Kimberley bywoon.

Venter is een van vele invloedryke Kimberliete wat dié byeenkoms bywoon en sy glo dit is ’n móét op enige leier se kalender.

Ondenkbare sukses

“Hierdie konferensie is verskriklik stimulerend. Dit gaan nie net oor die leierseienskappe en die uitleef daarvan nie, maar ook oor die persoon se lewe en ervarings wat hom gebring het tot waar hy is,” sê sy. “Buiten die feit dat mens oor leierseienskappe leer, is dit ongelooflik inspirerend. Van die sprekers het al ondenkbare sukses bereik – wat mens sou dink nie moontlik is nie.”

Bear Gryllis kom praat ook

Hier verwys Venter na die sprekers op dié konferensie. Dit sluit in Bear Grylls – ’n bekende televisie-persoonlikheid, Ben Sherwood van Disney-faam, Jai Jaing, bekende entrepreneur en blogger, asook Chris Voss, gyselaaronderhandelaar en besturende direkteur van die Black Swan Group. Dit is maar net ’n paar van die bekende name wat konferensiegangers dié jaar gaan toespreek.

Vir ’n ryker lewe

Venter sê álmal kan baat by die inligting wat deur die sprekers gedeel word. “Ek voel almal moet hierdie konferensie bywoon. Dit is ’n kerk wat dit aanbied, so baie mense dink dit gaan net geestelike inspirasie of geestelike boodskappe wees, maar dit is nie. Dit is lewensboodskappe en lewenservaring wat gedeel word. Volgens my moet elke persoon wat iets in sy lewe wil bereik of ’n ryker lewe wil bekom, hierdie konferensie bywoon.”

Jy is ook ’n leier

Sy sê elkeen is ’n leier op een of ander manier. “Elkeen is die leier van sy eie lewe. ’n Ma is ’n leier, want sy is ’n voorbeeld vir haar kinders. ’n Pa is ’n leier, want hy moet sy gesin beskerm en lei. Hierdie konferensie is nie net vir leiers nie, maar vir enige persoon.”

Werk met mense

Venter sê haar grootste leierskapposisie is by die skool. “Omdat ek met so baie mense werk, dink ek mens het hierdie lewensvaardighede nodig. Mens kan nie genoeg van sulke vaardighede hoor of leer nie.”

Volgens haar is die lewe nie maklik nie en het elkeen terugslae wat verwerk moet word. “In mens se persoonlike lewe ervaar mens ook partykeer terugslae en hierdie konferensies help jou om ook hierdie dinge te oorkom.”

Wêreld se grootste leierskapsbyeenkoms

Quintin Kellerman, pastoor by die Taberna Dei Diamantstad, sê hulle is geweldig opgewonde om weer vanjaar die konferensie aan te bied. “Dit is die wêreld se grootste leierskapsbyeenkoms. Ongeveer 500 000 mense regoor die wêreld woon dit by die onderskeie punte by.”

Die konferensie word aangebied deur middel van ’n massiewe skerm. Die ouditorium moes aan verskeie vereistes voldoen sodat dit hier aangebied kan word.

Beteken iets

“Die sprekers help jou nie net om jou leierskapstyl te ontwikkel nie, maar dit help jou om jou drome waarheid te maak. Jy het die geleentheid om deur wêreldleiers beïnvloed te word. Die leiers wat hier praat, is van regoor die spektrum. Hulle praat oor relevante onderwerpe en dis regtig lewensveranderend. Elke jaar sien ek hoe baie dit vir mense beteken. Die aanbieding is van wêreldstandaard en ons sien uit om jou daar te sien!”

Die Global Leadership Summit word op 9 November hier in Kimberley by die Taberna Dei Diamantstad aangebied. Dit kos R250 ’n kaartjie en jy kan jou kaartjie aanlyn bespreek.

Klik HIER om jou kaartjie te bespreek of bel 053 831 2345!

Kyk hier na ‘n voorsmakie:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: