Wagte toegesluit terwyl aan diens – in hof

KIMBERLEY. – Twee sekuriteitswagte is Vrydagmiddag in hegtenis geneem terwyl hulle aan diens was omdat hulle glo nie by PSIRA geregistreer is nie. Hierdie twee wagte het gistermiddag en vanoggend in die Kimberley-landdroshof verskyn.

Sifiso Khumalo (36) en Robert Maphumo (36) was albei by die persele waar hulle diens gedoen het toe hulle Vrydagmiddag na 15:00 deur vier polisiebeamptes en ‘n PSIRA-personeellid by die onderskeie persele verwyder is. Die persele waar hulle diens gedoen het, is glo net so gelos. Hulle is in die aanhoudingselle by die polisiekantoor toegesluit.

Werkgewer

Wickus Coetzee, eienaar van Scorp Security, vir wie die wagte werk, sê aan FiND iT hy het ‘n oproep van ‘n persoon by PSIRA ontvang wat aan hom gesê het hy moet hom by die polisiekantoor ontmoet. “Hy wou homself nie identifiseer nie. Hy wou my ook nie sê hoekom die wagte toegesluit word nie, net dat hulle in ‘contravention’ is van ‘n ‘act’. Die wagte is toegesluit en ons het die hele aand gesukkel om antwoorde te kry. Om 23:30 is ek meegedeel hulle kan op borg vrygelaat word. Hulle kon geen lasbrief toon om die inhegtenisname te staaf nie. Die omstandighede rondom die arrestasies is vreemd.”

Hy sê nie die polisie, óf die PRISA-werknemer kon verduidelik hoekom die wagte toegesluit mos word nie. “Die polisie kon nie sê of die oortreding se gevolge tronkstraf, ‘n boete of ‘n waarskuwing sou wees nie. Al ons dokumentasie is reeds aan PSIRA gestuur. Die maatskappy het aan my pa behoort, maar hy is oorlede. Die registrasie moet oorgedra word op my naam.”

Inhegtenisneming

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, het bevestig dié wagte is in hegtenis geneem vir die oortreding van artikel 20(1)(9) van die PSIRA-wet 56/2001.

Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê die blote wanvoorstelling deur ’n persoon dat hy ’n wettige en ’n geregistreerde sekuriteitswag is en dus voldoen aan die voorskrifte van die Wet, kan neerkom op bedrog. “Artikel 40 (1) (a) van die Strafproseswet 51 van 1977 bepaal dat ’n polisiebeampte enige persoon wat in sy teenwoordigheid ‘n misdryf pleeg of probeer pleeg, sonder ’n lasbrief kan arresteer.

Uitstel

Landdros Celeste Nameka het Khumalo se saak tot 6 November 2019 uitgestel vir verdere ondersoek. Riaan Bode is as sy regsverteenwoordiger aangestel.

Maphumo se saak is tot 30 Oktober 2019 uitgestel vir verdere ondersoek. Hy het egter aansoek gedoen om regshulp. Mnr. Bode is ook as sy regsverteenwoordiger aangestel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: