Munisipale werkers dreig met rommel

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Werkers van die Sol Plaatje-munisipaliteit het die munisipale geboueterrein met hulle vullistrokke versper. Die werkers het ook gedreig om die inhoud van hulle vullistrokke in die parkeerarea te stort.

Dit kom nadat daar net twee van die 19 kwessies op die memorandum wat op 4 Julie 2019 aan die uitvoerende burgemeester oorhandig is, opgelos is.

Die werkers sê dit is nie ’n staking nie, maar eerder ’n stage in en indien hulle nie onmiddellik verligting vir hulle kwessies ontvang nie, sal die stage in môre voortduur. “Ons maak solank gereed vir ’n volledige staking. Ons is nou siek en sat om nie ernstig opgeneem te word nie,” sê Masabata Kaselela.

Twee van die kwessies wat vir die werkers baie belangrik is, is dat die bestuurder van arbeidsverhoudinge opgeskort moet word en dat kontrakwerkers die geleentheid van ’n permanente posisie gebied sal word.

“Daar is mense wat al vir meer as nege jaar op kontrakbasis werk en net eenvoudig nie in aanmerking geneem word vir ’n permanente posisie nie,” sê Kaselela.