CALVINIA. – ’n Agt-en-twintigjarige is hier in hegtenis geneem ná 6 kg dagga in sy besit gevind is.
SAPD-lede van hierdie polisiekantoor het gisteroggend om 10:30 vier taxi’s deursoek.
Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê sers. Sheldon Opperman van Calvinia se honde-eenheid het een van die taxi’s deursoek en ’n swart tas gevind. “Daar is 6 kg dagga met ’n geskatte straatwaarde van R9 000 in die tas gevind.”
Sy sê die man wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die Calvinia-landdroshof op aanklag van dwelmhandel verskyn.



