’n Hart vir krieket en mense

Deel hierdie storie / Share this story

Michael Payne (30) is van die skema op Hartswater, waar hy grootgeword het. Hy was in die Laerskool Voorspoed, ’n klein skooltjie op Magagong. Michael het vyf kilometer van die plaasskooltjie af gebly . Dit is hiér waar hy sy liefde vir krieket ontwikkel het.

Eers was dit moeilik

Na laerskool het hy na Bloemfontein verhuis om by Grey-kollege skool te gaan.

“Ek het op laerskool plaaslik krieket gespeel en gedink ek is die volgende Allan Donald, maar toe ek by Grey kom, het ek gesien die talent wat van ander skole, regoor Suid-Afrika, kom, is baie goed. Die kompetisie was baie sterk. Ek het eers gesukkel. Ek het in die o/15E-span gespeel. Ek het toe begin om vir die  o/19 tweede span te speel, tot uiteindelik waar ek Suid-Vrystaat A verteenwoordig het. Daar het ek Greg Hobbson, wat by St. Andrews skoolgee en hulle kriekethoof is, as afrigter gehad. Hy het my baie geleer en daar het my passie vir afrigting begin.”

House of Cricket

“’n Jaar na skool het ek bemarking in Bloemfontein studeer. Ek het teruggekom Hartswater toe en ’n besigheid begin. Terwyl ek besig was om my besighede te bestuur, het ek gevoel die krieket in die skema is besig om dood te loop. Nie heeltemal dood te loop nie, maar die vlak van kompetisie wat ons hier het, is vir die outjie wat wel ’n loopbaan in krieket wil begin … hulle sukkel as hulle van hier af na groter skole of universiteit gaan. Dit is waar House of Cricket begin het.”

“Ek het vir 12 jaar eers by die hoërskole en laerskole in ons omgewing afgerig. Daarna het ek gevoel dit is moeilik vir my om ’n uur by ’n skool af te rig waar daar 15 of 16 kinders is en ek voel ek het nie werklik ’n verskil gemaak nie. Dit is hoekom ek House of Cricket begin het.”

“House of Cricket is een-tot-een afrigting. Ons is vyf afrigters by House of Cricket. Twee afrigters het ’n vlak twee en die ander drie het ook die vlak twee eksamen geskryf. Hulle is nou besig is om hulle prakties te doen.”

Geleenthede vir almal

“House of Cricket gaan daaroor om vir die outjies geleenthede te bied. Dit is my passie. Ek wil hê my ouens moet teen groot skole kompeteer. Hulle moet deelneem teen die bestes wat daar is, want dit is al hoe jy jouself kan meet. Krieket is vir my ’n wonderlike sport. Dit leer jou selfvertroue, selfbeheersing en dissipline.”

“Dit is om die outjies uit te lig en te help, om hulle voor te berei vir die lewe. Dit is iets wat sport doen en dit is hoekom my passie so groot is. My passie is om hulle op toere te neem. Ons ry elke jaar Knysna toe om daar te gaan deelneem. Dit is ’n wonderlike toernooi en ons kry die kans om teen die beste skole te speel.”

“Alhoewel dit ’n moeilike toernooi is en ons nie altyd die resultate kry wat ons wil hê nie, kry die outjies blootstelling. Wen is ’n bysaak. Wen is ’n positiewe ding en dit is altyd lekker, maar dit is net ’n bonus.”

Passie

“My passie is en was nog altyd krieket. Met dié wat ek met die jongmanne werk, het dit my passie geword. Dit gaan vir my oor die speler wat by my is. Hy moet dit geniet. Dit moet sy passie word. In die lewe vandag is daar soveel negatiewe goed wat ons aandag aftrek, veral omdat daar nie baie goed is vir die jongmense in die skema om te doen nie. Dit is my mikpunt en passie, dat daai outjie iets vorentoe vat wat hulle kan help in die lewe.”

“Die passie is om mense bloot te stel aan goed waaraan hulle nie noodwendig blootgestel sou word, as dit nie vir sport was nie. Saam met die krieket en fondsinsameling kan ons dit ’n werklikheid maak.”

“Ons was April in Thailand. Dit was een van die wonderlikste toernooie waaraan ons ooit deelgeneem het. Ons was 14 ouens wat gegaan het, waarvan net ses al buite die grense van Suid-Afrika was. Ons het algeheel vierde geëindig. Een van die grootste hoogtepunte was dat ons die grootste eer wat hulle vir ’n span kan gee, verwerf het. House of Cricket het The Spirit of Cricket-toekenning gewen. Hulle het iets gesien wat ek voel ons leer die outjies en wat hulle uitleef. Dit was baie lekker om te sien dat ander mense dit raaksien. Ons is genooi om volgende jaar terug te gaan. Dit was vir ons ’n baie groot eer.”

“Jy kan speel so hard soos wat jy kan – jy los niks uit op die veld nie, jy gee alles, jy gee jou beste, want dit is waaroor dit gaan. Dit gaan oor die sport, maar as jy van daai veld af stap, dan maak jy vriende. ’n Wedstryd word vergeet, maar vriende regoor die wêreld vergeet jy nooit.”

Belangrikste deel

“Die belangrikste deel vir my is dat die ouens dit geniet. Ons moet ’n omgewing skep waar jong ouens veilig voel, waar daar nie geboelie word nie, waar hulle voel hulle behoort. Hulle behoort aan iets wat belangrik is. House of Cricket bestaan al vyf jaar en elke jaar word ons net sterker. Ons wil die geleentheid skep vir die ouens om deel te neem aan ’n sport waarvoor hulle lief is. Ons wil hulle bewapen met selfbeheersing en trots. Ons wil hulle leer om moeilike situasies te hanteer en om in die wêreld uit te gaan en ’n verskil te maak.”