Hoogswanger vrou in Shoprite aangerand

Deel hierdie storie / Share this story

STRAND – ’n Man is uit ‘n winkel verwyder nadat hy ’n hoogswanger kassier by ’n Shoprite by Broadway Mall in Lwandle aangerand het.

Volgens The South African, ’n aanlyn-koerant, het Zimkhitha Xhalabile, die kassier, pas haar kasregister gesluit toe die klant aangedring het dat sy hom moet help.

“Die bord was daar, hy het dit verwyder en gesê dat ek nie weg is nie, ek moet hom help,” het sy gesê.

Sy het eers met die klant gestry en gevra dat hy van ’n ander kassier gebruik maak. Sy het egter maar besluit om hom te help toe hy aggressief geword het.

In beeldmateriaal van die voorval kan daar gesien word hoe die klant met Xhalabile stry en handgebare maak voordat hy haar geslaan het. ’n Veiligheidswag het die voorval dopgehou en het Xhalabile teruggehou nadat sy aangerand is. 

’n Bestuurder het opgedaag om die klant te verwyder.

Kapt. FC van Wyk, die polisiewoordvoerder, het aan GroundUP, ’n aanlyn gemeenskapskoerant, bevestig dat ’n saak van aanranding deur die vrou by die polisie geopen is. Die ondersoek duur voort.