Jannie Brink-skool se afskeid vir leerders wat die skool verlaat, was ’n reusesukses. Die funksie het op 12 September in die skoolsaal plaasgevind.
Juffrou Erika van Devender en haar matriekafskeidspan het almal saamgewerk om hierdie aand ’n sukses vir elke leerder te maak.
Die saal was opgemaak met ’n sirkustema en het soos ’n sirkustent gelyk. Die leerders se grimering en hare is deur onderwysers en vrywilligers gedoen. Om 16.00 het die motors aangekom en leerders is beurtelings om die skool geneem en by die voorkant afgelaai, waar ouers en ander leerlinge hulle ingewag het. Foto’s is van elke leerling deur Anuska Maritz geneem.
Die leerders het lekker verversings, o.a. ‘n hamburger en koeldrank gekry.
Daar is musiek gespeel waarop die leerders kon dans. Teen 21.00 was die aand op ’n einde en is die leerders per bussies terug na hul huise toe vervoer.
Nicqui Robinson van Jannie Brink sê: “Vreeslik dankie aan Noxolo Molepo, Mpho Nosi, Kenosi Moalahi, Mantwa Bopape en al die lede van Galeshewe Assemblies of God vir hulle groot donasie en opoffering van tyd om leerders rond te ry.”



