Micayla Marais (25), ’n suksesvolle entrepreneur en grimeerkunstenaar van die stad gesels met FIND iT oor wie sy is.
Sy was in Hoërskool Diamantveld en het in 2012 matriek geskryf. Na skool het sy in Bloemfontein by Face to Face, grimeerkuns en spesiale-effekte gestudeer. Sy het teruggekeer na Kimberley, maar nie lank daarna nie teruggegaan Bloem toe en by CTU Training Solutions vir ‘n jaar grafiese ontwerp studeer.
Terug in Kimberley het sy haar grimeerateljee oopgemaak. In 2015 het sy met fotografie begin. Sy het nie studeer daarvoor nie, maar het haarself geleer. “Ek moes foto’s neem vir my grimeerportefeulje en het begin rondspeel met fotosessies, dit is toe dat die gogga my byt.”
Hoekom grimering en foto’s?
“Ek hou van die kreatiewe deel van die grimering en foto’s. Dit is vir my lekker om te sien hoe my visie realiseer.”
Wat doen sy in haar vrye tyd?
“In my vrye tyd edit ek my foto’s. Dit vat baie tyd, so ek bestee baie tyd voor die rekenaar. Ek maak ook grimeervideo’s vir my sosiale media.”
Diereliefhebber
Micayla sê sy het vier Yorkie-hondjies gehad, maar dat die laaste een drie weke gelede oorlede is. “Ek is ’n baie groot diere-mens, so dit het my baie hard geraak.”
Iets interessant
“In 2006 is ek gekies vir die Nasionale Protea-trompoppiespan wat Suid-Afrika in Amerika verteenwoordig het. In daardie stadium was dit vir my ’n groot prestasie. Ek het ook ’n groot obsessie oor Disneyworld en kan nie wag om eendag op wittebrood soontoe te gaan nie.”
Groot liefde
Micayla is tans in ’n verhouding met Michael Smith en die twee sal Sondag hulle eerste jaar saam vier. “Ek is werklik baie gelukkig. Hy dra my op sy hande. Hy is my beste vriend en ons vul mekaar goed aan.”
Micayla sê die paartjie het tans nie enige trouplanne waarvan sy weet nie.
Kinders in die toekoms
“Ek wil baie graag kinders hê – om meer spesifiek te wees, wil ek graag twee hê. Dit is my grootste begeerte om ’n dogtertjie van my eie te hê. Ek kan nie wag om met haar te speel en haar te leer van grimering nie. Ek kyk altyd na die oulike video’s op sosiale media waar klein dogtertjies tutorials met grimering doen. Hulle smeer eintlik net meer hulle gesigte vuil, maar dit is vrek oulik.”
Boodskap aan ander
Moet nooit moed opgee nie. Ek weet dit is glad nie maklik nie, maar mens moet deur die moeilike tye druk om die vrugte daarvan te pluk. Stel ’n doelwit en spring daarvoor.”




