Twee memorandums aan premier oorhandig

Deel hierdie storie / Share this story

RITCHIE. – Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het gistermiddag hier die gemeenskap toespreek. Dit volg na betogings dié area die afgelope maand geruk het.

Honderde gemeenskapslede het hierdie byeenkoms bygewoon, in die hoop om hulle ongelukkigheid weer te gee.

Twee memorandums is aan die premier oorhandig.

Memorandums

In hierdie memorandums word gevra vir meer behuising, dat die paaie geteer word, elektrisiteit en water voorsien word vir alle informele dele en dat toilette wat reeds installeer is maar nog nooit gewerk het nie ook herstel word. Hulle versoek ook dat ’n forensiese ondersoek ingestel word om uit te vind wat van Ekapa se skenking van R13 miljoen aan Ritchie gebeur het. Daar word ook versoek dat Norman Hammer en Bonsile Makhamba as raadslede verwyder word en dat daar ondersoek ingestel word na hulle leefwyse.

Vir die eerste memorandum het hulle die premier 14 dae en vir die tweede memorandum sewe dae gegee om met antwoorde na hulle toe terug te kom.

Onderteken

Saul het ná die memorandums gelees is, albei geteken en gesê hy sal die betrokke partye bymekaarkry om die memorandums te bespreek sodat voldoende antwoorde gegee kan word. “Ons sal ook met langtermyn oplossings na julle toe terugkom.”

Gemeenskapslede

Omtrent 17 lede van die gemeenskap het daarna gevra dat daar gekyk word na sportfasiliteite. Hulle het gesê die area het geen parkies en geen aktiwiteite vir die jeug nie, daarom sal die misdaad onder die jeug nie afneem nie. Ander het gevra dat daar ook in die areas ligte opgesit word, omdat dit saans baie donker is en dit baie onveilig is.

Kyk die video hier:

Elektrisiteit en water

’n Lid van die WhatsApp-groep, Munisipale groep Ritchie/Modderrivier, het egter op dié groep gevra of die elektrisiteit en water verniet aan hierdie areas verskaf sal word en of hulle ook gaan moet betaal vir hierdie dienste.

Elize Niemann, stigter van dié WhatsApp-groep, sê indien ’n huishouding se inkomste minder as R3 500 per maand is, hulle kan aansoek doen vir “indigent” status, wat beteken dat die staat jou munisipale dienste help betaal. “Dit maak nie saak waar jy woon nie, jy kry dan ’n sekere hoeveelheid elektrisiteit en water gratis.”