“Nigeriër soek nog sy geld”

Deel hierdie storie / Share this story

VANDERBIJLPARK. – Só sê adv. Lunda Ngcobo, vir die staat, in die borgtogaansoek van die drie verdagtes in die Amy’Leigh de Jager-ontvoeringsaak.

Tharina Human, Laetitia Nel en Pieter van Zyl is sedert 3 September in aanhouding, nadat Amy’Leigh op 2 September voor haar laerskool, die Laerskool Kollegepark, uit haar ma se arms geruk en ontvoer is. Sy is glo op ’n nabygeleë plot aangehou, voordat haar ontvoerders haar Dinsdagoggend omstreeks 02:00 naby die Shakespear Inn in Vanderbijlpark afgelaai het. Dit is ’n berugte gevaarlike area.

Sy is net ’n dogtertjie

Ngcobo sê die verdagtes het Amy’Leigh in die nag in ’n gevaarlike area afgelaai waar dwelmsmokkelaars bymekaarkom. “Sy is net ’n kind. ’n Dogtertjie. Hulle kon haar nie eens by ’n plek aflaai wat veilig is, soos McDonald’s, nie. Hulle het haar alleen in die straat afgelaai sonder dat sy weet waarheen om te gaan.”

Vrou en kinders weerloos

Ngcobo sê vroue en kinders is weerloos. “Die belangstelling van die media en vroue-organisasies wys dat die publiek belangstel in die saak. Mense is moeg! Hulle is moeg vir geweld teen vroue en kinders.”

Kinders is bevrees

Sy sê ander kinders het die ontvoering gesien en is nou getraumatiseer. Verder sê sy die staat gaan getuies roep wat kom getuig hulle het gehoor hoe die verdagtes die ontvoering beplan; asook het een van die getuies gesien hoe die verdagtes Amy’Leigh by ’n huis inbring.

Ngcobo het aangevoer die verdagtes wou glo geld kry om ’n Nigeriër te betaal vir geld wat Human hom skuld. Daarom het hulle die ontvoering beplan en wou ’n losprys van R2 miljoen vra. “Hy is nog daar buite. Die geld is nog nie betaal nie. Die staat voer aan die verdagtes moet in aanhouding bly, ook vir hulle eie veiligheid. En vir die veiligheid van die kinders.”

Gaan onskuldig pleit

Al drie verdagtes het tydens hulle borgtogaansoek gesê hulle gaan onskuldig pleit. Al drie verdagtes het self kinders. Human het ’n agtjarige dogtertjie, Nel het ’n 10-jarige seun en 14-jarige dogter, Van Zyl het ’n volwasse dogter.

David Mey tree op vir Human, Stoffel Venter tree op vir Nel en Lungelo Chirwa tree op vir Van Zyl. Slegs Van Zyl het ’n vorige oortreding van diefstal.

’n Vierde verdagte, Bofokeng Molemohi (24), is intussen ook in hegtenis geneem.

Landdros Hussein Khota het uitspraak vir die borgtogaansoeke tot 11 Oktober uitgestel.