KIMBERLEY – Ontstoke gemeenskapslede van Kimberley spekuleer oor poste by die nuwe hospitaal vir geestesgesondheid terwyl onderhoude vandag daar plaasvind.
Albert Links, die hoof uitvoerende beampte by die nuwe hospitaal vir geestesgesondheid, was nie beskikbaar vir kommentaar nie. Volgens die ontvangsdame sal hy tot môre met onderhoude besig wees.
Lulu Mxexo, woordvoerder vir die department van gesondheid, het nie op verskeie vrae wat deur FiND iT gerig is, geantwoord nie.
FiND iT het die volgende vrae aan die departement gerig:
- Hoeveel nuwe poste is by die nuwe fasiliteit geskep?
- Hoeveel werkers van die Wes-Einde-gespesialiseerde-hospitaal is na die nuwe hospitaal verplaas?
- Hoeveel poste sal in die tweede fase by die hospitaal geskep word?
- Wanneer word die tweede fase van die hospitaal se opening verwag?
- Hoe word die werksposte adverteer?
- Wat gaan van die ou fasiliteite in Wes-Einde word?
Inwoners spekuleer oor poste by nuwe hospitaal
Inwoners van die stad het op ’n plasing deur Michael Mcgalty, wat op die Sol Plaatje-gemeenskapsforum se Facebook-groep gemaak is, oor die poste gespekuleer en verskeie aantygings gemaak.
Dee Nhlanhla Le Olwethu Dladla sê in ‘n Facebook-plasing dat sy nog geen plasing vir die poste gesien het nie.
Ruzet Dineo sê sy het met die bou van die hospitaal gehoor dat al die poste reeds gevul is.
Lesang Lekwene sê hy glo addisionele personeel sal in die toekoms aangestel word. Hy sê dit moet nie vergeet word dat personeel van die ou fasiliteit verplaas word nie. Die departement moet by die nasionale tesourier vir befondsing aansoek doen om meer personeel aan te stel. Daar moet vir alle poste begroot word.
Tebogo Malang sê aansoekvorms vir poste was verlede jaar in Oktober beskikbaar. Hy sê CV’s is by die departement van maatskaplike ontwikkeling ingehandig.
Ontihetse Marwane het bevestig dat hy die advertensie vir poste onder andere vir sekuriteit en administratiewe personeel gesien het. Hy sê Links het ook die poste op sy persoonlike Facebook-profiel gedeel.
Lynie Aps sê hy gaan nie sy tyd mors om aansoek te doen nie. “Jy sal sien hulle tannies, boeties, neefs en niggies met ’n graad 3-sertifikaat gaan daar aangestel word. Ons het nie eers van die aansoekvorm wat glo laasjaar Oktober beskikbaar was, geweet nie,” sê hy.
Zodwa Mtonxa sê al het hulle die poste adverteer, glo sy die poste is reeds gevul.
Shalom Ntshangana sê personeel word van buite gekontrakteer. Basies was net mediese personeel bygevoeg. Meer poste sal beskikbaar word wanneer die kontrak verval het, sê hy.
John Seheri Currently sê EPWP-werkers word misbruik. Hulle word ’n toelaag van R1 000 betaal om die vuilwerk by die hospitaal te doen. Dit met valse beloftes dat hulle later in permanente poste aangestel sal word, verduidelik hy.
Geen terugvoer van die gesondheidsdepartement was teen die tyd van publikasie ontvang nie.



