Duisende rande se besittings gesteel

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ’n Kimberley-inwoner het verlede week ’n slagoffer van diefstal, wat hulle nou duisende rande kos, geword.

Elri Vlok sê sy en haar man was by Finishing Touch, in Cartersweg. Cyril Vlok, Elri se man, was ten tyde van die diefstal alleen in die voertuig.

Cyril sê ’n onbekende man het na hulle voertuig gekom en aan die venster geklop. “Ek kon nie die venster oopmaak nie en het die deur op ’n skreef oopgemaak. Die onbekende man het die deur heeltemal oopgetrek en het gevra vir geld of vir iets om te eet. Hy het ewe skielik my foon uit my hand gegryp, maar ek het dit reggekry om die selfoon weer terug te gryp. Die man het ná dit weggehardloop.”

Daarna het hulle New Main toe gery, waar Elri besef het haar handsak en skootrekenaar is weg.

“Ons vermoed terwyl ek en die een onbekende man besig was om te stry oor die selfoon, het ’n tweede persoon gekom en die ander besittings gesteel.”

Die Vlok-gesin het dadelik ’n saak van diefstal by die polisiekantoor oopgemaak.

“Elri se handsak met haar beursie, ’n Lenovo-skootrekenaar en rekenaarsak, ’n Fossil-horlosie en grimering is net ’n paar van die besittings wat gesteel is,” sê Cyril Vlok.