September is verby en daarmee saam die skoolvakansie. Ons is reg vir die laaste kwartaal van die jaar, wanneer almal bietjie moeg raak, ’n vakansie nodig het en begin uitsien na Kersfees.
Een plek waar die pas nié gaan afneem nie, is by FiND iT.
135 000 unieke lesers
Ons het vandeesmaand ’n rekordmaand gehad met 135 000 lesers. Dis 16 Tafel Lager Park-stadions vol mense! En dis almal mense wat ons vertrou dat ons inligting korrek deurgee.
FiND iT is julle eie
Ons kan sien ons lesers neem FiND iT aan as hulle eie. Julle bel ons met julle stories. Julle vra hulp as julle sukkel. Julle vertel ons as julle kinders presteer en julle vra ons om belangrike boodskappe te versprei.
Die beauty van digitaal
Nuus is ’n snaakse ding. Die een dag lees mense ’n sekere “beat” en die volgende dag is hulle moeg daarvoor. Ons kan elke dag sien wat julle lees en waarin julle belangstel. Dis die beauty van digitaal! Niks kan verbloem word nie. Syfers kan nie uitgedink word nie. Dis konkrete bewyse van wat werk en wat jy wil hoor.
Ondersteun mekaar
Vandeesmaand het Suid-Afrika gebloei en vroue en kinders het swaargekry. In ’n maand waar die pakslae uitgefaseer is, is Amy’Leigh de Jager voor haar kleuterskool uit haar ma se arms gegryp. Dit het intense paniek by elke ouer gesaai. Jy het anders gekyk na jou kind aflaai by die skool en wou seker maak jou kind is veilig. As jy die storie gevolg het, het jy moontlik saam met die ouers gebid en gevra dat sy veilig moet terugkom. Wat eintlik ondenkbaar is, want ons doen amper weekliks stories van kinders of vroue wie se lyke gekry word na hulle verdwyn. Dit wys jou wat kan vermag word as mense mekaar ondersteun.
Aktivis van jongs af
In ander areas van die wêreld het ’n 16-jarige meisietjie met Asperger-sindroom amper sewe miljoen volgelinge op Instagram en word Greta Funsberg as ’n omgewingsaktivis gesien. Sy het haarself vir ’n jaar uit die skool laat haal sodat sy deur die wêreld kan toer om elke Vrydag ’n optog in ’n ander stad by te woon waar sy jongmense opkommandeer om vir die omgewing te staak. Sy sê daar is net tien jaar van ons aarde soos ons dit ken, oor.
Mense is honger
Dit skep by jou die vraag: wat gaan aan in hierdie wêreld? Mense is honger vir connection. Honger vir met mekaar praat. Honger vir verandering. Om anderkant toe te kyk, werk nie meer nie. Om jou kop in die sand te druk, lei tot niks. Mense wil verandering sien. Minder praat, meer doen!
Maak oop jou oë
Maar jy kan slegs ’n verskil maak deur met oop oë deur die lewe te gaan. Te help waar jy kan. Lig te werp op gebeure wat onder die mat ingevee word. Net omdat jy nie weet daar is inbrake in jou straat nie, beteken nie daar is nie inbrake in jou straat nie.
Inligting moet dus akkuraat en deeglik deurgegee word. Inligting moet geverifieer word. En hoe doen jy dit?
Ons eie ombudsman
Min mense weet dit, maar FiND iT het sy eie interne ombudsman, Johan Retief. Johan was vir nege jaar ombudsman vir Suid-Afrika (Press Council) en gee daagliks vir ons raad oor artikels. Wat ons mag publiseer en wat nie. Hoe ons bronne verifieer en hoe ons beriggewing doen. Ons is self ook ’n lid van die Press Council.
Geen fake news op FiND iT
Om daardie rede kan jy met sekerheid weet: wat jy op FiND iT lees, is nie “fake news” nie. Dit word deur die regte kanale opgevolg en weergegee nadat dit oorweeg is, deurgelees is, geverifieer is.
Ons het ook VANDAG, om ons 135 000 lesers te vier, ’n blad begin waar jy kan vertel wat jou inspireer en wat jou vandag, elke dag, laat goed voel. Deel jou stories op #finditfeelgood en vertel ons wat jou vandag laat goed voel! Gaan “like” ons by FiND iT Feelgood.
Laat hoor steeds van jou as jy foute sien. Stuur vir ons wat in jou wyk en area aangaan. Kla oor die water en die elektrisiteit. Vertel ons van iemand wat jou inspireer. Laat weet as jou kind presteer. Ons wil daar wees as jy ’n event aanbied en ons wil weet as jy iets aanpak wat ons lesers gaan inspireer.
Dankie dat jy ons vertrou. Op nóg 135 000 lesers! Moenie een dag misloop nie! Maak seker ons app is op jou foon: www.find-it.co.za/app.
Lekker lees.




