Inspirasie van die week – Jani Louw

Deel hierdie storie / Share this story

Jani Louw (29) is as baba aangeneem. Sy vertel aan FiND iT hoe sy die storms in haar lewe oorkom het.

Jani is in die Kaap gebore, maar het op George grootgeword. Sy is ’n enigste kind en sy en haar ouers is baie na aan mekaar. Sy het uitgevind van haar aanneming toe sy in graad sewe was en het nie goed op die nuus reageer nie. “Dit het jare se geduld, liefde en gebed gevat, maar ek weet dit het ons as gesin nader aan mekaar gebring. Deesdae vergeet ek meeste van die tyd ek is aangeneem.”

Volg in ouers se voetspore

“Ek volg uiteindelik in my ouers se voetspore. My ma was ’n musiekonderwyser en my pa ‘n lektor in bosbou. Ek het hierdie jaar by die St Patrick’s CBC begin skoolhou en ek is mal daaroor. Ek het argeologie studeer en het met my meestersgraad begin. Ek het eers musiekteater geswot voor ek met argeologie begin het. Daarna het ek ’n internskap by die McGregor-museum gedoen, dis hoe ek in Kimberley beland het. Toe my internskap na twee jaar tot ’n einde kom, wou ek nie wegtrek nie. Ek het my hart op Kimberley verloor. Ek het geweet dis waar Vader my geplant het met ’n doel, al mis ek die see en berge van George super-baie!”

Natuurliefhebber

Jani sê haar passie tans is om toekomstige leiers op te rig. “My pa is baie lief vir die natuur. So ek het grootgeword met: spaar water, sit emmers in die stort en gebruik dan die water vir die toilet. Ons herwin ook. Ons het net een aarde en ons moet beter na hom begin kyk! Elke druppel help om die emmer vol te maak. As ons begin om klein goedjies te verander, kan dit al klaar begin om ’n positiewe verandering te maak.”

Wat motiveer haar?

“My netwerk van mense om my motiveer my. My familie, my pelle, my kerk en my werk. Ek het nooit gedink ek sou ’n hoërskooljuffrou wees nie, maar ek geniet my werk so baie.”

Boodskap van hoop aan ander

“Die storms in die lewe help jou dalk meer as wat jy dink. Ek het iemand eendag hoor sê: “Ek het God gevra hoekom hy so baie storms oor my lewe stuur en God het gesê: ‘My kind, ek weet jy kan swem, maar jou vyande kan nie swem nie.’”

“Die storms in ons lewe is nie daar om ons te straf nie. Ek weet dit nou, maar ek het dit baiekeer vergeet en moedeloos geraak in die middel van ’n storm. My krag kom van die Here af. Baiekeer help storms jou skip om vinniger te seil. So embrace the storms! En weet: in the middel van ’n storm is die Here by jou!”