KIMBERLEY – ’n Brigadier (57) van die polisie in Kimberley is op Erfenisdag buite Kimberley op die N12 in ’n motorongeluk beseer.
Kapt. Bashaobile Kale, woordvoerder vir die polisie, het bevestig brig. Tlhokomelang Diakanyo, ’n polisiebeampte wat by die Galeshewe-polisiekantoor gestationeer is, en haar passasier was in ’n ongeluk buite Kimberley betrokke. Geen ernstige beserings is opgedoen nie.
Na bewering is die bestuurder deur ligte van ‘n aankomende voertuig verblind en die voertuig wat sy bestuur het, het gevolglik met ‘n sleepwa gebots.
Brigadier se toestand stabiel
Nooddienste het brig. Diakanyo na die Gariep Medi-Clinic gebring.
Denise Coetzee, woordvoerder vir die Gariep Medi-Clinic, het bevestig brig. Diakanyo is in ‘n stabiele toestand in die hoësorg-eenheid van die hospitaal. Sy het sagteweefselbeserings aan haar kop opgedoen.



