Bly jy naby die North Cape mall? Ervaar jy ook probleme met geraas by dié mall saans en oor naweke?
Carli Janse van Vuuren, wat in die kompleks reg agter McDonald’s bly, sê hulle kan die geraas nie meer hanteer nie. “Vandat McDonald’s 24 uur oop is, is dit nag. Mense in die parkeerterrein speel kliphard musiek, lag hard, gesels, gil en skree. McDonald’s se luidspreker is ook veels te hard en dit frustreer mens as iemand iets twee-uur in die môre bestel.”
Daar word ook gereeld gespin en geref en resies in die straat voor die mall gejaag. “Dit is net heeltyd ’n rumoer en gekuier. McDonald’s is ’n eetplek, nie ’n partytjieplek nie.”
Janse van Vuuren en haar ma het al menigmale by McDonald’s klagtes ingedien en hulle antwoord nie eers meer die fone as daar gebel word nie. Die polisie is ook al gekontak en kan niks aan die situasie doen nie.
“Wanneer mens by die huis kom na ’n lang dag se werk, wil mens ook net bietjie stilte, rus en vrede hê.” Janse van Vuuren vertel dat haar ma, wat by haar woon, ook nie meer jonk is nie en 12-uur skofte werk. “Sy het haar rus nodig, maar mens kan nie slaap nie.”
Janse van Vuuren voel dat die mall iets aan die situasie sal moet doen. “Ons weet nie meer wat om te doen nie. Niemand is bereid om ons te help nie.”
Joseph Leeuw, woordvoerder van McDonald’s North Cape mall, sê dat die probleem al met die mall se bestuur opgeneem is. McDonald’s het ook die volume van hulle luidspreker hersien nadat hulle klagtes ontvang het. “Ongelukkig is daar nie veel wat ons kan doen aan raserige kliënte nie. Ons probeer so ver as moontlik kliënte aan te moedig om nie te raas nie, maar wanneer kliënte onder die inlvoed is, is dit moeilik om hulle te beheer en ruk dit soms handuit.”
Indien jy naby die North Cape mall bly en ook die probleme ervaar, stuur ’n epos na [email protected]



