NOORD-KAAP – Boy Dingakeng (42) en Lesego Botshelong (51) is vir die moord van ’n 22-jarige man van Ganap, 60 km vanaf Kuruman, skuldig bevind.
Brig. Mohale Ramatseba, hoof van kommunikasie vir die Noord-Kaapse polisie, sê die voorval het in Januarie 2011 plaasgevind.
Volgens die verslag het die oorledene een van die beskuldigdes vir ’n sigaret gevra. In plaas daarvan om ‘n sigaret te gee, het die verdagte hom beledig. Die oorledene het een van die beskuldigdes met ‘n klip gegooi, wat hom teen sy kop getref het.
Ramatseba sê een verdagte het die slagoffer vasgedruk terwyl die ander hom met ’n mes gesteek het. Die slagoffer is op die toneel by ’n taverne naby Tsineng dood verklaar.
Albei verdagtes is tot 15 jaar tronkstraf vir die moord gevonnis.
Maj.-genl. Johan Bean, bevelvoerder vir die John Taolo Gaetsewe-distrik, het a.o. Tebogo Ronnie Gaethijwe, die ondersoekbeampte, vir sy uitmuntende dienslewering bedank.



