Troetelslang reis tot in Kimberley

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ’n Slang het ’n saamrygeleentheid vanaf die Vrystaat tot in die Noord-Kaap in die enjin van ‘n bakkie gekry.

Dié slang het sy verskyning by Oranje Toyota gemaak toe die bakkie inkom vir ’n diens.

Ryno Griesel, van Kimberley Snake Rescue, sê toe hulle die oproep kry oor die slang, het hulle eers gedink dis ’n Kaapse Kobra. “Die Kaapse Kobra ry gewoonlik saam. Ons sien toe die bakkie kom van die Vrystaat en het gedink dis dalk ’n Spoegslang. Ons het dus al die voorsorgmaatreëls getref voor ons die slang uitgehaal het.”

Griesel sê die slang is ’n Grey Rat Snake. “Dis ’n eksotiese slang. Jy koop dit by die troeteldierwinkel en hou dit aan as ’n troeteldier.”

Dié slang mag nie in die natuur vrygelaat word nie. “Mense koop soms die troetelslange en as hy groter word, dan wil hulle nie meer daarna kyk nie. Die slange word dan in die natuur vrygelaat, maar dit moenie gebeur nie. Dit is waar ons moeilikheid begin.”

Die slang is nie giftig nie en sal nou by Griesel aangehou word. “Dit was definitief iemand se troetelslang.”