Scooter-squad reis na die Weskus

Deel hierdie storie / Share this story

’n Groep van 28 mans en vrouens het Saterdag met scooters vanaf Fochville, in Gauteng, op pad na Saldanha aan die Weskus vertrek.

Hierdie groep samel fondse in vir ’n huis vir gestremdes op Saldanha.

Vrouens en kinders

Jeanné Coetzee, een van die vrouens wat die reis meemaak, sê daar is altesaam 14 scooters en drie recovery voertuie wat saam die reis aanpak. “Die vrouens en kinders ry in die voertuie agter die mans aan.”

Sy sê dit is die eerste jaar wat hulle hierdie projek aanpak en sover was dit ’n reusesukses. “Ons is tans op Citrusdal en behoort Vrydagaand op Saldanha te wees, waar ons dan die huis vir gestremdes gaan besoek.”

Mielies

Hierdie groep het ook 35 ton mielies aan die boere van Sutherland afgelewer. “Boere in die Fochville-omgewing het bygedra en mielies geskenk om die boere van Sutherland te help. Ons het ’n gedeelte van die mielies in Vosburg afgelaai, maar die meerderheid op Sutherland.

Geseënde pad

“Ons het tot dusver nog ’n geseënde pad gehad. Ons het net een nommerplaat verloor en ’n ander man het net ’n klein stukkie grond gekoop en sy spieëltjie afgebreek, maar ons het nog geen beserings opgedoen nie.”

Grap tussen vriende

Sy sê hierdie projek het eintlik begin as ’n grap tussen vriende en hulle beplan hierdie projek al vir meer as ’n jaar. “Die mans het ’n grap gemaak en gesê hulle wil met die scooters Wes-Kaap toe ry, maar dit het vinnig vlam gevat hoe meer mense betrokke wou word.

Dankbaar

“Ons is baie dankbaar vir al die donasies en skenkings wat ons sedertdien ontvang het, want hierdie projek sou nie moontlik wees sonder die hulp van ander nie,” sê Jeanné.