Kimberley-polisielede kry toekennings

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Die Tracker-toekennings is by die Kalahari Lodge in Kimberley gehou. Kapt. Serio Kock, woordvoerder van die polisie, sê:  “Dit is ‘n baie gesogte byeenkoms en hierdie jaar is sers. Lucas Jacobs van die Kimberley blitspatrollie is gekies as die beste individuele presteerder, terwyl die Kimberley-span tydens die Noord-Kaap Tracker Awards weggestap het met die beste eenheidstoekenning.”

“Daar is ook toekennings aan tien ander Noord-Kaapse polisielede uitgedeel vir uitmuntende prestasies en vier eenhede is erken vir die ekstra myl wat hulle gestap het in die stryd teen diefstal van voertuie in die provinsie. Die meeste wenners van hierdie jaar kom van die polisie se voertuigmisdaadondersoekspan, die blitspatrollie, K9, snelwegpatrollie en misdaadvoorkomingseenheid.”

Mnr. Ron Knott-Craig het namens Tracker gepraat en die polisie geprys vir die uitstekende diens wat hulle tans lewer. Craig het ook die deelnemers meegedeel dat meer as 95 000 voertuie sedert die ontstaan van hierdie vennootskap in 1997 teruggevorder is. Hierdie formidabele vennootskap het so gegroei dat die Noord-Kaap ‘n 100% -terugvordering vir gesteelde voertuie het.

Die polisie cluster bevelvoerder vir die John Taolo Gaetsewe-gebied, maj.-genl. Johan Bean, was oorstelp van blydskap oor wat Tracker en die polisie die afgelope twee dekades vermag het. Dit beeld waarlik uit dat vennootskapspolisiëring die vermindering van misdaad, voorkoming van misdaad en die terugvordering van gesteelde voertuie bevorder.