Wêreldrenosterdag word vandag gevier

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Wêreldrenosterdag word op 22 September gevier. Dit sluit al vyf renosters in, naamlik die swart-, wit-, groter eenhoring-, Sumatran- en Javan-renosters.

Wêreldrenosterdag is in 2010 vir die eerste keer deur WWF-Suid-Afrika aangekondig. Dit bring nieregeringsorganisasies, dieretuine, renosters en besorgde burgers regoor die wêreld bymekaar om bewustheid te kweek en geld vir die vyf spesies van renosters in te samel.

Elkeen word bedreig deur die onwettige handel in renosterhoring.

Die departement van omgewingsake het ‘n hernude oproep op alle Suid-Afrikaners gedoen teen die voortdurende plaag van renosterstropery.

Statistieke oor renosterstropery

Volgens die webtuiste, poachingfacts.com, het Suid-Afrika die grootste bevolking renosters van enige Afrika-land. Die beroemde Krugerwildtuin, ‘n enorme reservaat van 19 633 m², huisves ongeveer 7000 tot 8300 renosters. Dit is ook die grootste teiken vir renosterstropery in Suider-Afrika.

Meer as 1200 renosters is in 2014 gestroop. Die stropery het tot minder as 800 renoster in 2018 afgeneem.

Geskiedenis van renosterstropery

Aan die begin van die twintigste eeu het honderde duisende renosters Afrika en Asië bevolk, dit selfs na ’n eeu se aanvraag vir renosterhoring uit die Midde-Ooste, Indië, China en uiteindelik die Weste. Renosterstropery is tans verantwoordelik vir die meerderheid van die sterftes van  renosters in die hele vasteland van Asië en Afrika.

Volgens die webtuiste was dit grotendeels aangespoor deur die aanvraag van ryk individue in Asiatiese lande wat graag hul finansiële sukses wil toon. Maar antieke en grysmark-produkte van ’n twyfelagtige ouderdom floreer steeds wêreldwyd. Die prys van renosterhoring het tot meer as $ 60.000 per kilogram gestyg.