Polisieman verskyn vir moord van kind (11)

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN – ’n Manlike konstabel van die Bloemspruit-polisie in Bloemfontein is vir moord en poging tot moord in hegtenis geneem.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder vir die Bloemfontein-polisie, sê die voorval het omstreeks 22:00 op 20 September by ’n huis van ‘n eksvriendin van die beskuldige in Batho-nedersetting plaasgevind.

Na bewering het die beskuldigde met sy dienspistool skote binne die huis afgevuur. Die eksvriendin se man is in sy maag beseer en hy is na ’n hospitaal gebring. 

Kind in sitkamer doodgeskiet

Mbambo sê een van die skote het waarskynlik deur ’n deur, wat die huis vir die inwoners verdeel, getrek. Dit het ’n 11-jarige kind getref wat op ’n sitkamerbank gesit en TV kyk het. Die kind is op die toneel dood verklaar.

Die verdagte is kort daarna in hegtenis geneem en daar is op sy dienspistool beslag gelê. Hy gaan binnekort in die Bloemfontein-landdroshof op aanklag van moord en poging tot moord verskyn.