Ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa

’n Ope brief aan die president van Suid-Afrika geskryf deur Johan Retief.

9 September 2019

Die President van die Republiek van Suid-Afrika
Mnr. Cyril Ramaphosa


Geagte pres. Ramaphosa,

Uitdaging om tot aksie oor te gaan

U het onlangs Suid-Afrikaanse mans uitgedaag om verantwoordelikheid te neem vir die stortvloed van aanvalle op vroue en kinders, wat verkragting en moord insluit, wat ons land vir so lank reeds teister en wat nou klaarblyklik handuit geruk het.

My eerste reaksie reaksie was: “Hoe op dees aarde kon ek verantwoordelikheid neem vir iets wat ek nie gedoen het nie?”

Iemand het aan die hand gedoen dat u slegs daarmee die skuldiges in gedagte gehad het. Ek is egter oortuig u het bedoel dat alle Suid-Afrikaanse mans kollektiewe verantwoordelikheid vir hierdie tragedie moet neem – baie soos wit mense veronderstel was om te doen ná die val van apartheid.

Dit het my met my oorspronklike vraag gelaat: Hoe neem ek sulke verantwoordelikheid?

My eerste gedagte was dat ek ‘n artikel oor die saak sou skryf waarin ek sou probeer om die probleem te identifiseer en te ontleed, en om dan maniere voor te stel hoe om die probleem te oorkom. So ‘n artikel sou egter, ten beste, deur ‘n klein minderheid van die bevolking gelees word – en selfs dan, sou die invloed daarvan (indien enige) slegs vir ‘n paar dae geld.

Ek het daarom voorlopig van daardie opsie afgesien.

Omdat ek besef het dat aksies in hierdie geval belangriker as woorde is, was my volgende vraag watter stappe ek kon neem om hoegenaamd ‘n verskil te maak. Ek het uiteindelik besluit op die gerigste van alle aksies: Ek sou die T-hemde met die woorde Ek respekteer vroue & kinders op die voorkant, en Wat van jou? op die agterkant daarvan laat druk en dit dra.

Ek het op hierdie woordkeuse besluit omdat ek glo dat respek vir mense (in hierdie geval, vir vroue en kinders) ‘n kernwaarde is wat in die hart van enige gesonde gemeenskap gesetel moet wees – en dat die aanhoudende prysgawe van hierdie waarde (lees: disrespek vir mense) aan die wortel van hierdie probleem lê.

Daarom: Van nou af, as mense my in die openbaar sien, word hulle uitgedaag om oor hul eie waardes, houdings, gedrag en toewyding te dink.

Ek besef egter dat ek in ‘n klein, plattelandse gemeenskap leef en dat die dra van my T-hemp min of geen uitwerking op die breër Suid-Afrikaanse samelewing sal hê nie. Dit sal niks meer wees nie as ‘n druppel aan die emmer. Ek glo egter dat dit beter is om deel van ‘n oplossing te wees as deel van ‘n probleem (in hierdie geval, menende om niks te doen en stil te bly oor hierdie aaklighede).

Hoe dit ook al sy, dit bring my na u, meneer die President. Wat as ek, in alle nederigheid, u uitdaging omkeer deur ook ‘n uitdaging aan u te rig?

Die uitdaging is dat u die Parlement (lees: die mense) vra om ‘n projek te befonds om ‘n totaal van 46 664 sulke T-hemde per provinsie te laat druk en om dit na elke dorp en stad in ons land te laat versprei.

Dit kan ‘n diepgaande effek hê, wat oor jare en selfs dekades kan voortuur. Dink net daaraan – bykans ‘n half-miljoen mense wat met die boodskap identifiseer en wat dit uitdra na die res van die bevolking, en vir so ‘n lang tyd!

As die regering besluit het om so ‘n projek te befonds, is ek seker dat Suid-Afrikaanse winkelgroepe soos Spar, OK, Pick ‘n Pay en ander gunstig sal reageer as u hulle vra om die T-hemde gratis na al hul winkels landwyd te vervoer – waar die T-hemde uitgedeel kan word, ook gratis.

Geagte meneer die President, so ‘n belegging kan ‘n volhoubare, positiewe invloed op die land hê – en u sal gesien word as die een met die visie om dit te laat gebeur.

Hierdie uitdaging elimineer in geen opsig die pogings van ander mense om dieselfde te bereik nie en is ook nie bedoel as die enigste moontlike pad vorentoe nie. Dit gee ook nie voor dat dit die probleem heeltemal sal oplos nie. Wat dit wel doen, is om ‘n poging aan te wend om die hele Suid-Afrikaanse samelewing van die misdade bewus te maak (en te hou) – misdade wat vinnig besig is om die morele onderbou van ons samelewing weg te kalwer. Terselfdertyd gaan dit mans landwyd ‘n geleentheid gee om hul stem in die openbaar te verhef.

Mense sê dikwels: “Genoeg is genoeg!” So kom ons voeg die daad by die woord en maak ons beursies oop. 

Ek laat hierdie saak in u bekwame hande, met die wete dat ek u uitdaging ernstig geneem het en probeer het om ‘n verskil te maak. Wat my betref, begaan ek eerder daarmee ‘n fout as dat ek stilbly en niks doen.

Die uwe,
Johan Retief
St Helenabaai

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: