Motoris skuldig aan voetganger se dood

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Paycheal Coetzee (29) is op 18 September deur die Pofadder-streekhof op aanklag van strafbare manslag, asook dronk en roekelose bestuur skuldig bevind.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder vir die polisie, sê Coetzee het op al die aanklagte skuldig gepleit. Die beskuldigde is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat opgeskort is. 

Coetzee is ook deur die hof beveel om R180 000 weens verlies aan inkomste aan die oorledene, Juline Raman (26), se familie te betaal. 

Kock sê die beskuldigde het omstreeks 21:00 op 19 November 2017 op die N14 naby Aggenys met ses insitendes in sy Toyota Corolla gery.

Die hof het bevind dat Coetzee teen ’n hoë spoed gery het en toe beheer verloor het, wat voorsaak het dat die motor gerol het.

Raman is in die ongeluk oorlede en die ander insittendes is met beserings na ’n hospitaal gebring.

Brig. Francis Hender, bevelvoerder vir die Namaqua-distrik, het adjunk-sers. Olebogeng Seetelo van die Aggenys-speurtak vir sy uitmuntende ondersoek bedank. 

“Mag hierdie vonnisoplegging as afskrikmiddel dien vir ander motoriste om gehoor te gee aan die reëls van die pad. Veral soos die skoolvakansie nader beweeg,” sê Hender.