August 4, 2021

Vragmotorbestuurder word vermis

KIMBERLEY. – ’n Vragmotorbestuurder van Bethlehem word vermis.

Hein Steyn, die eienaar van Tranvicor, sê Kerneels de Beer (49) het gisteraand 20:00 by die Puma-vulstasie in Landbouweg gestop. “Een van ons ander drywers het nog met Kerneels om 21:00 gepraat. Vanoggend 06:00 het ek gesien hy is steeds by die vulstasie en het hom probeer bel. Hy het nie geantwoord nie.

Bekommernis

“Ek het eers gedink hy slaap nog, maar teen 09:00 toe ek hom steeds nie in die hande kon kry nie, het ek bekommerd geraak.”

Sleutels agtergelaat

Hein het sy skoonseun gevra om te gaan kyk of alles nog reg is met Kerneels en die vragmotor. “My skoonseun het net ná 09:00 by die vragmotor gestop, maar Kerneels was nie meer daar nie. Die vragmotor was gesluit, maar die sleutel is op die dieseltenk gelos.

Sy besittings

“Dit is vir my baie vreemd. Dalk het hy genoeg gehad en geloop, maar hoekom het hy al sy besittings agtergelaat? Sy beddegoed, skeermessakkie, sigarette en meer is steeds in die vragmotor. Ons het ook nie struweling gehad nie, so ek verstaan nie waar hy is nie.”

Polisie

Hein sê hy het reeds die polisie hier gekontak, maar het nog geen terugvoering ontvang nie. “My skoonseun het ook by die vulstasie gaan uitvind, maar hulle het niks gesien nie. Die kameras in daardie area werk ook nie.”

Indien enigiemand weet waar Kerneels is of wat met hom gebeur het, kontak asseblief vir Hein by 071 164 1976.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *