Uiteindelik hoop ná baie seer

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die Mostert-gesin het in ‘n kort periode baie hartseer en verlies beleef. Een van hulle wense het vanoggend waar geword toe ’n grafsteen aan hulle oorhandig is.

FC Nel (15), ’n gr. 8-leerder aan die Hoërskool Adamantia, het sy pa op 11 maande oud aan die dood afgestaan. Sedertdien het hy die meerderheid van die tyd by Lizette Mostert, sy tannie, gewoon. FC se ma, Antonia Nel, is in 2015 oorlede.

Drie pa’s

“My dogter, Jolanda Kruger, se man is in 2014 oorlede en my man is op 1 April 2019 skielik aan ’n hartaanval dood. Dit het die hele familie baie geraak, maar vir FC ook. Ná my man se afsterwe het dit vir FC gevoel asof hy drie pa’s in sy kort lewe aan die dood afgestaan het,” vertel Lizette.

FC sê die dag toe hy by die huis kom ná skool en hoor hy het die grafsteen van GW Graniet gewen, het hy in trane van blydskap uitgebars. “Ek was ongelooflik bly en baie dankbaar,” sê FC.

Wens

Lizette sê hierdie grafsteen is ’n wens wat waar geword het. “Ons wou al ’n grafsteen vir sy ma laat opsit, maar met my man se dood was alles net bietjie deurmekaar.”

FC se ma en pa is albei op Windsorton tot ruste gelê.

Ewig dankbaar

“Ben-Johan, die eienaar van GW Graniet, gaan self gaan kyk waar die grafsteen opgerig moet word. Ons is ewig dankbaar aan sulke wonderlike mense wat oor ons pad gekom het. Ons kan nie genoeg dankie sê nie. Daar is nog hoop in die wêreld.”

Geliefde

Indien jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het en op soek is na die perfekte grafsteen, klik hier om na GW Graniet se webtuiste te gaan.

Kompetisie

Hierdie gesin het die grafsteen ter waarde van R5 000, wat in ‘n kompetisie op FiND iT se Facebook-blad bekendgemaak is, gewen. Die kompetisie het vanaf 5 tot 30 Augustus geloop.

Foto: Hennie Lizemore, van GW Graniet en FC Nel.