Bedrieër kry 20 jaar vir verkragting

Deel hierdie storie / Share this story

KURUMAN – Patrick Tuelo Malete, ’n 28 jarige man van Kuruman, is tot 20 jaar tronkstraf vir die verkragting van twee vroue en diefstal gevonnis.

Kapt. Olebogeng Tawana, woordvoerder vir die polisie, sê Malete is op drie aanklagte in die Kuruman-streekhof skuldig bevind – twee aanklagte van verkragting en een van diefstal. 

Matriekdogter buite salon oorval

In die eerste voorval het Malete omstreeks 12:45 op 3 Augustus 2018 ’n 18 jarige matriekdogter met ’n mes gedreig. Die slagoffer het van die salon huis toe gestap om vir die matriekafskeid gereed te maak. Hy het haar tot by ’n beboste gebied gesleep waar hy haar verkrag het. 

Verkragter teiken werksoekende vrou

’n Week later het Malete ’n vrou wat werk in die Kuruman-middestad gesoek het, bedrieg, sê Tawana. Die beskuldigde het haar belowe dat hy ’n onderhoud met sy werkgewer sal reël en hulle het kontakbesonderhede uitgeruil. 

Tawana sê die verkragter het haar die volgende dag gebel en gereël dat sy slagoffer hom by die Kuruman-vliegveld ontmoet. Sy het Malete by die vliegveld ontmoet. Volgens die slagoffer was die beskuldigde aggeressief toe sy daar aankom. Hy het haar met ’n mes gedreig en haar in ’n nabygeleë veld verkrag.

Malete was nie aan een van die slagoffers bekend nie, maar danksy konst. Freddy Moamogwa se ondersoek is sy DNS aan albei sake verbind. Die beskuldigde is in Januarie in hegtenis geneem. 

Lt.-genl. Peter Shivuri, die provinsiale kommissaris van die polisie, het Moamogwa vir sy noukeurige ondersoek bedank.