Die departement van onderwys doen ’n beroep op alle ouers om hulle kinders hierdie laaste week voor die skoolvakansie begin, skool toe te stuur. FiND iT het gister ons lesers gevra of hulle kinders die laaste week voor ’n vakansie nog skool toe gaan en hoe hulle daaroor voel. Dit het gebeur nadat skoolbanke reeds so te sê leeg is.
Kinders bly nogsteeds by die huis
Die meeste ouers stem dat hulle kinders tot die laaste dag moet skoolgaan, maar steeds is die getalle van kinders wat wel skool bywoon, skokkend. Sommige ouers voel dat onderwysers hierdie tyd gebruik om vraestelle te merk en punte uit te werk. Party ouers voel dat kinders nie besig gehou word by die skool nie en dan kattekwaad aanvang.
Stuur kinders skool toe
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys, verseker alle ouers dat dit nie die geval is nie. “Die Noord-Kaapse onderwysdepartement is bekommerd oor die hoë afwesigheidsyfer in skole teen die einde van ‘n kwartaal. Ons het leerders altyd aangemoedig om skool toe te gaan tot die laaste dag van ‘n kwartaal. Dit beteken bloot dat ouers/ voogde die leerders toelaat om tuis te bly en in die meeste gevalle nie onder toesig nie, wat ‘n invloed op die veiligheid van die kind het. Ons het leerders altyd aangemoedig om skool toe te gaan tot die laaste dag van ‘n kwartaal. Alhoewel die skoolwerk, toetse en assesserings vir die kwartaal gedoen word, pleit ons weer by ouers om die regte ding te doen en kinders skool toe te stuur.”
“Dit is een van die kritieke kwartale en laaste dae van die skoolkalender waar skole hul laaste pogings moet aanwend ten bate van die leerlinge en ons kan nie bekostig om selfs een skooldag te mis nie.”



