Magdalene Kwagile (27) het op 7 September 2018 haar lewe verloor toe ’n vragmotor met ’n Honda in Postmasburg gebots het. Vandag, presies ’n jaar later, het die familie nog geen antwoorde na die ongeluk nie.
Navrae gedoen
Pulane Kwagile, Magdalene se tannie, sê die familie het al menige male navrae by Postmasburg polisie gedoen, maar geen antwoorde nie. “Elke keer as ons bel, is daar ’n ander ondersoekbeampte. Ons weet nie meer met wie om te praat nie. Niemand kom terug na ons toe nie. Die foon word in ons ore doodgedruk.”
Dit vat te lank
Die situasie is baie moeilik vir die familie omdat hulle in Kimberley woon, maar die ongeluk in Postmasburg gebeur het. “Ons wil weet of iemand vir haar dood verantwoordelik gehou gaan word. Hoekom is nog niks gedoen nie? Hoekom vat dit so lank?”
FiND iT het navrae by die polisie in Postmasburg gedoen en Kapt. Banda Makoloi het gesê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.



