KIMBERLEY. – Twee vrouens is Saterdagaand ernstig beseer ná die voertuig waarin hulle gery het met ’n vragmotor gebots het.
Magdalena Botha en Anelda Botha, haar dogter, is albei in die intensiewesorg-eenheid opgeneem.
Die ongeluk het op die hoek van Cartersweg en Schmidtsdriftweg plaasgevind.
Uit die wrak bevry
Die Toyota-voertuig het deur die heining van Gas World gebars en tot stilstand gekom. ER24 en ander ambulansdienste, asook die brandweer, moes die twee vrouens uit die wrak bevry. Nooddienste moes ook ’n gedeelte van Gas World se palissade afsny om die bestuurder van die voertuig te bevry.
Die bestuurder van die Toyota het na bewering voor die vragmotor ingery en het toe beheer oor die motor verloor.
Intensiewesorg-eenheid
“Magdalena Botha is steeds in die intensiewesorg-eenheid. Sy is ernstig beseer, maar is stabiel,” sê Celeste de Jager, woordvoerder van Lenmed-hospitaal.
Stephan Deetlefs, woordvoerder van Gariep Mediclinic, het bevestig Anelda Botha, Magdalena se dogter, is in dié hospitaal opgeneem. “Sy is tans ook nog in die intensiewesorg-eenheid, maar is stabiel. Sy is ernstig beseer.”




