Man wat polisieman skiet – verhoor geskeduleer

Deel hierdie storie / Share this story

BARKLY-WES. – ’n Man wat na bewering ’n polisieman geskiet het, het vandag in die landdroshof hier verskyn. Sy verhoor vind vanaf 17 tot 19 Desember plaas.

Thabiso Veleko (38) staan tereg op aanklag van poging tot moord op ’n polisieman, asook op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Veleko se borgtogaansoek is verlede week deur landdros M. Qomoyi afgekeur.

Gesteelde motor

Hy het na bewering in Desember van 2015 ’n polisievrou se privaat motor, ter waarde van R350 000, op Kuruman gesteel.

Sers. Mzimkhulu Dube, die ondersoekbeampte, sê die motor waarmee die verdagte gery het, het tussen Kuruman en Danielskuil sonder brandstof gaan staan. Veleko het toe te voet gevlug. “Polisiebeamptes het vanaf Kuruman in Danielskuil se rigting gery op soek na die gesteelde motor.”

Polisieman raakgeskiet

Kol. Rudolph Louwrens, ondersoekbeampte van die Valke, het tydens sy getuienis gesê die honde-eenheid is ook uitgeroep en het Veleko tot in ’n veld gevolg. “Veleko het ’n polisieman in die bors, by sy hart, raakgeskiet. Gelukkig het die polisieman ’n koeëlvaste baadjie aangehad.”

Roof by vulstasie

“Hy is op 18 Maart 2016 in Kimberley deur die Valke in hegtenis geneem. Hy was in besit van ’n Porsche-motor en vyf selfone. Na verdere ondersoek het ons uitgevind oor ’n roof wat by ’n vulstasie op Barkly-Wes plaasgevind het,” het kol. Louwrens getuig.

Veleko het na bewering onder andere geld en selfone by die vulstasie gesteel. “Die selfone, wat in die motor was, is deur die werkers by die vulstasie uitgeken.”

Saak uitgestel

Sy saak is tot Desember 2019 uitgestel, wanneer sy verhoor sal begin. Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofdatum.