Twee verkragters kry lewenslank tronkstraf

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Katlego Marake (27) en Ratanang Seikaneng (26) is elk tot lewenslank vir die verkragting van ’n 17-jarige dogter gevonnis.

Brig. Mohale Ramatseba, hoof van kommunikasie vir die polisie in die Noord-Kaap, sê die 17-jarige slagoffer en haar vriend het op 11 Junie 2011 in Glenred Village naby Kuruman geloop toe hulle deur Marake, Seikaneng en ’n derde verdagte oorval is.

Ramatseba sê die slagoffer se vriend is deur die verdagtes aangerand. Hulle het die slagoffer na ’n erf gesleep en beurte gemaak om haar te verkrag.

Drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle deur die slagoffer uitgeken is. Forensiese bewyse het die verdagtes aan die seksuele oortreding verbind. 

Die derde verdagte is dood terwyl die saak nog ondersoek was.

Marake en Seikaneng is in die hooggeregshof in Kimberley op aanklag van aanranding en verkragting skuldig bevind.