“Ek is ’n dwelmverslaafde in rehab” – Juan deel 11

Deel hierdie storie / Share this story

Juan van Rensburg (36) het gisteraand vir ’n paar minute met FiND iT gesels ná sy skof in die kombuis geëindig het.

Die restaurant, waar Juan werk, maak gewoonlik om 20:00 toe, maar hy sê baie mense kom net voor agt om nog bestellings te plaas. “Die restaurant is altyd baie besig.”

Hy is al amper 30 weke by die rehabilitasiesentrum.

Gemoed

Die vorige keer toe hy met FiND iT gepraat het, was sy gemoed bietjie af omdat hy meer tyd het om te dink aan waar hy is en hoekom hy daar is. Hy het gister egter meer positief geklink. “My gemoed is maar op en af, maar ek bly positief en vat dit dag vir dag.”

Foto: Juan se getuienis by Hoër Volkskool in Graaff-Reinet

Scouts-naweek

Hy sê hy geniet die uitreikprogram waarvan hy nou deel is. Die program se naam is U-CAN, (United Christians Against Narcotics) en behels dat hulle na skole gaan en met die leerders praat oor wat dwelms aan ‘n mens doen. “Ek praat uit die hart en vertel die kinders waardeur ek is. Ons het ook ’n scouts-naweek gehou waarvoor die skole wat ons besoek ongeveer 10 seuns genomineer het vir die naweek. Dit is gewoonlik seuns wat bietjie probleme het. Die seuns het dit baie geniet. Ons het vir hulle tente opgeslaan en saam met hulle visgevang.”

Broer en suster

Ellouise van Rensburg, Juan se suster, sê hulle band is nou hegter as ooit vantevore. “Ons praat soms drie keer ’n dag met mekaar, al is dit net om te sê hulle het ’n vis gevang of om sy gunsteling worship-liedjie met my te deel. Hy bel my ook as by af voel en net bietjie wil gesels, waar hy dit nooit voorheen gedoen het nie. Dit is asof hy nou weer mens begin raak met emosies, waar die dwelms dit altyd verdoof het.”

Trots

Sy sê hy kry soms baie moeilike dae en dan probeer sy hom moed inpraat. “Ek maak wel seker dat hy elke dag weet hoe ongelooflik trots ons op hom is.”