Andries van der Merwe (43), KANSA se gemeenskapsmobiliseerder van fondsontwikkeling, skilder graag in sy vrye tyd. Sy kantoormure is met van sy pragtige skilderye versier. Hy gesels met FiND iT oor sy liefde vir mense en wat sy werk behels.
Wat doen jy presies by KANSA?
“Ek is die gemeenskapsmobiliseerder van fondsontwikkeling. Basies moet ek sorg dat daar fondse bekom word om die deure oop te hou. Ek organiseer ook funksies.”
Hoe het jy by KANSA begin werk?
“My ma is ‘n kankeroorlewende, so ek het nog altyd ’n sagte plek vir KANSA gehad. Ek het by Nocci gewerk en ons het altyd KANSA se advertensies gedoen. Ek het gedink mens moet ’n dokter of iets wees om by KANSA te werk. Toe daar ’n pos oopgaan, het ek aansoek gedoen en die werk gekry.”
Hoekom wou jy graag by KANSA werk?
“Ek het nog altyd ’n liefde vir mense en kinders gehad wat swaarkry en siek is. As ek gekyk het na die werk wat KANSA doen en die waardes wat ons uitleef, het dit my altyd geïnteresseer.”
Wat is die beste deel van jou werk?
“Om ’n verskil in ander se lewens te maak. Dit is die eerste werk waar ek in die oggend kan opstaan en weet dat ek ’n verskil gaan maak, ongeag of dit ’n drukkie is en of dit is om iemand aan te moedig om te laat toets vir kanker. Vroeë diagnose kan ’n lewe red.”
Wat is die slegste deel van jou werk?
“Tye is moeilik. Besighede kan nie altyd help soos in die verlede nie. Dit is ’n uitdaging om fondse te bekom en mense te kry om vir KANSA te skenk. Dan natuurlik word pasiënte soos familie en dit is baie hartseer as jy een van hulle verloor. Dit inspireer mens om mense aan te moedig om vir toetse te gaan.”
Vertel ons wie jy is en wat jy doen as jy nie werk nie
“Ek skilder graag na ure, of altans ek probeer. Ek is ook baie mal oor diere en het ses katte. Ek oefen ook graag om balans in my lewe te bring. Ek gaan doen ook so nou en dan die parkrun wanneer ek tyd kry.”



