Werker steel meer as R300 000 van Kansa

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN – Phadi Maboea (37), ’n voormalige werker by Kansa, is op 309 aanklagte van bedrog skuldig bevind, nadat hy meer as R300 000 by die organisasie gesteel het. 

A.o. Lynda Steyn, woordvoerder vir die polisie in die Vrystaat, sê Maboea se aktiwiteite van bedrog en diefstal is op 11 Oktober 2019 ontdek. Dit volg nadat hy paaiemente vir die betaling van die organisasie se kragrekening gedupliseer het. Steyn sê hy het in totaal R308 998 met die duplikasies in sy eie sak gesteek. 

Die onwettige transaksies het op 30 Junie 2017 begin totdat dit deur ’n interne forensiese ondersoek ontdek is.

Die Valke het hulle ondersoek begin nadat ’n formele klag teen Maboea ingedien is. Hy is op 19 Maart 2019 in hegtenis geneem.

Maboea het in die Bloemfontein-landdroshof verskyn en is skuldig bevind. Hy is tot twee jaar direkte tronkstraf vir diefstal en bedrog gevonnis.