Hakkel kan Mej. Noord-Kaap nie onderkry

KIMBERLEY. – Shantille Klaase (20) sê altyd vir haarself ter motivering dat sy die eerste Mej. Suid-Afrika gaan wees wat hakkel.

Sy het aan Mnr. en Mej. Noord-Kaap, wat vanjaar al 10 jaar bestaan, deelgeneem. Hierdie kompetisie word deur Rolemodels Foundation aangebied.

Student

Shantille, wat oorspronklik van Namakwaland kom, woon tans in Kimberley. Sy is ’n tweedejaar student aan die Sol Plaatje Universiteit en wil graag haar B.Com-graad verwerf. Sy wil graag op die lange duur ’n rekenmeester wees, maar streef ook daarna om haar merk in die modelbedryf te maak.

Top drie

“Ek was 11 jaar oud toe ek aan my eerste modelkompetisie deelgeneem het en gewen het. Ek het sedertdien aan ’n paar modelkompetisies deelgeneem, maar het altyd net in die top drie geëindig. Ek het in 2018 die titel van Mej. Kamiesberg 2018/2019 verower.”

Geleenthede

Sy sê sy het besluit om deel te neem aan Mej. Noord-Kaap as gevolg van waar sy vandaan kom. “Dis ’n klein dorpie met beperkte geleenthede wat ook jou vermoëns beperk. Om Mej. Noord-Kaap te wees, sou beteken dat ander na my kan opkyk en sê: “Ek kan omdat sy kan.”

Shantille sê modekompetisies is veronderstel om ’n platform te wees waar jy nie net jou uiterlike skoonheid wys nie, maar ook jou sosiale vaardighede op alle maniere kan verbeter. “Om deel te neem van hierdie kompetisie het my soveel geleer.

Hakkel

“Ek het ’n spraakgestremdheid en is baie op skool geboelie. Ek het modelwerk gesien as die perfekte platform om hierdie gestremdheid te beveg. Dit verg altyd ekstra fokus tydens die onderhoude en mettertyd het ek gemakliker geraak met die idee van onderhoude voer. Ek sien dit ook as ’n manier om ander te motiveer.”

Toekennings

Sy het nie net die titel as Mej. Noord-Kaap gewen nie, maar het ook die Debutante-prestasie, Senior Mej. Persoonlikheid-toekennings, Senior Public Choice en Senior Stylist-toekenning verower.

Depressie en angs

“As Mej. Noord-Kaap kan ek die jeug in die Noord-Kaap beïnvloed om na grootheid te streef. Een van die grootste kwessies waarop ek ook lig wil werp, is depressie en angs, nie net omdat dit my persoonlik beïnvloed nie, maar omdat ek weet so baie ly in stilte. Dit word bewys deur die hoeveelheid gevalle van selfdood in die provinsie.

Vrede

“Ek het ook groot geloof dat eenheid vrede sal bewerk. Vrede in ons provinsie. Vrede in ons wêreld en ek glo dit kan bereik word as ons mekaar op elke manier ondersteun.”

Foto: Mnr en Mej. Noord-Kaap. Jack Hermans en Shantille Klaase

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: